Psalm 38
1 Straf tog nie in ongenade, my misdade,
HEER, verdra my met geduld.
Wil tog nie in toorn ontsteek nie, en U wreek nie
op my sonde en sondeskuld.
2 In my dring u strafgerigte, HEER, soos skigte
wat my hart deurboor soos staal.
Ja, die hand wat hul gedryf het, in my lyf,
het self ook op my neergedaal.
3
4 Want my hoof is gans bedolwe, in die golwe
wat my sonde oor my stort;
al die golwe en die bare, met hul sware
druk het my te swaar geword.
5 Al my kwale en my plae wek mishae
en 'n walging, my te sterk.
Ag, hoe lelik is die wonde, van die sonde
as mens op sy dwaasheid merk!
6 Krom en heel terneergeboë, voor u oë
gaan ek heeldag in die rou.
In my liggaam is ontsteking en verbreking -
niks is heel meer aan my nou.
7
8 HEER, U weet hoe hart en sinne staan daarbinne
as ek worstel in my leed.
Voor U is my sugte en sorge nie verborge,
daar U alles sien en weet.
9 Ag, hoe skud my hart en bewe; uitgelewe
is my krag en uitgeteer.
Oë, heeltemal ontluister, skemerduister,
sien geen daglig amper meer.
10 Ver van my, uit diep mishae vir my plae,
het my vriende weggegaan.
Selfs familie wil nie bly nie naby my nie,
maar hul staar van ver my aan.
11 En my Vyand lê sy hinderlae; in my plae
dreig hy met die laaste slag.
Saam bespreek hul, altyd veins hul, en bepeins hul
my verderf die hele dag.
12
13 Want U, HEER, ontferm U oor my, en verhoor my.
Op U bou 'k - wat my ook tref.
Laat my vyand nooit oor my nie hom verbly nie -
oor my wank'ling hom verhef.
14 Want in al my teënhede dreig my skrede
altyd weer om uit te gly.
HEER, ek kerm in onvermoë voor u oë,
en my smart is steeds voor my.
15 Ja, 'k bely voor U my sonde onomwonde
en bekommerd oor my kwaad.
Maar my vyand lewe pragtig, altyd magtig
en in hoog verhewe staat.
16 Dié wat goed vergeld met boosheid en godloosheid,
hul word groot en sterk in mag;
hul omsluit alkant my weë, staan my teë,
omdat ek u wet betrag.
17 Wil my, HEER, in hierdie lewe nie begewe;
wees nie ver van my gebed!
Hoor die roepstem van 'n lyer, o Bevryer
wat my altyd uit wou red!
|